As jy daaroor droom om jou kinders verder te laat studeer, beteken dit jy moet vandag al begin spaar, anders gaan jou drome dalk nooit verwesenlik word nie. 

Maak die spaar van studiegeld deel van jou toekomsplan

Ons wil almal genoeg geld hê om ons kinders goed te versorg, en later genoeg hê om hulle ’n geleerdheid te laat kry.

Die eerste plek waar jou kind leer hoe om met geld te werk, is by jou. Deur dit wat jy doen en sê, en ook wat jy vir hulle wys, is hoe kinders leer. Die uitdaging aan jou is om ’n slag mooi na jou geldgewoontes te gaan kyk. As jy gereeld impulsief koop – sonder om eers daaroor te dink – is dit presies wat jou kinders ook gaan begin doen.

Baie mense vra vir my: “Op watter ouderdom kan ek begin om vir my kind sakgeld te gee?” Die oomblik as hy sy eerste roomys self koop, is die tyd reg. Leer jou kind dan om die geldjies wat hy kry, reg te spandeer. Robert Kiyosaki sê: “Die meeste mense besef nie dat dit nie gaan oor hoeveel geld jy maak nie. Dit gaan oor hoeveel geld jy hou.” Lê dié beginsel vroeg reeds vas.

Geld is vir die meeste van ons ’n gebruiksartikel. Ons het dalk ’n verbruikersmentaliteit, wat beteken: As ek geld het, moet ek dit uitgee. As ons ons kinders net een gewoonte kan aanleer, dan is dit dat hulle eerder ’n beleggingsmentaliteit moet hê. As jy geld in die hand het, al is dit honderd rand, dink hoe jy dit tot jou voordeel kan gebruik. Moet dit nie uitgee net omdat jy dit het nie.

Jy kan jou kinders van jongs af leer dat hulle sakgeld gekoppel is aan iets wat hulle moet doen, soos bed opmaak of skottelgoed was. Hulle moet weet dat ’n mens geld verdien vir ’n taak wat jy verrig en wat waarde toevoeg.

Baie ouers hou nie die feit in gedagte dat die koste van onderwys elke jaar met omtrent nege persent styg nie. Al begin jy dalk vroeg reeds spaar vir jou kind se hoërskool- of tersiêre opleiding, moet jy onthou om elke jaar die bedrag aan te pas om tred te hou met die stygende koste, anders vind jy dalk te laat uit dat jy nie genoeg gespaar het nie.

Stel bereikbare doelwitte om jou toekomsdrome te bereik 

Naas jou huis gaan universiteitsgeld waarskynlik jou grootste uitgawe wees. Gestel jou kind se universiteitsopleiding gaan R500 000 kos. Jou kind is nou ses jaar oud en gaan dus oor 12 jaar studeer. Dit beteken jy het 144 maande om te spaar. As jy R500 000 deur 144 maande deel, kry jy die bedrag wat jy nou al in ’n universiteitsfonds behoort te spaar. Hou net inflasie ook in gedagte.

Soos die Chinese spreekwoord lui: “Wanneer is die beste tyd om ’n boom te plant? Twintig jaar gelede. En die tweede beste tyd is vandag.” As jy nog nie begin spaar het nie, begin vandag.

Vind uit wat die koste van opleiding sal wees teen die tyd dat jou kind universiteit toe moet gaan. Vra ’n gekwalifiseerde finansiële raadgewer om jou te help bepaal hoeveel jy elke maand moet wegsit.

Verhoog jou betalings elke jaar wanneer jy jou salarisverhoging kry. Gebruik ’n gedeelte van jou jaarlikse bonus en vul jou kind se studiespaargeld daarmee aan. Dit is belangrik dat julle as gesin bepaal hoeveel geld julle elke maand kan spaar as deel van die finansiële voorsorg vir julle kinders.

In dié proses moet julle begroting ruimte laat vir noodgevalle. Jy kan byvoorbeeld nie jou gesin in ’n finansiële krisis dompel omdat jy te veel geld spaar waaraan jy nie kan raak nie, en in dieselfde maand drie bande van jou motor moet laat vervang nie. Daarom is dit belangrik om bereikbare doelwitte te stel sodat die blink toekoms waaroor jy droom, vir jou kinders ’n werklikheid kan word.

Leer jou kinders om nie lief te wees vir geld nie, want dit kan hulle inhalig en selfsugtig maak en hulle lewens vernietig. Leer hulle eerder om geld te respekteer, want dan sal hulle verantwoordelik wees en vir hulleself en hulle geliefdes kan sorg. Hulle sal ook eendag verantwoordelike en produktiewe lands- en wêreldburgers wees.